Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou – Romeine 15:1b-2.
Ons wat daagliks by die Here vertoef en by Hom leer hoe om te lewe, moet uitgaan en dít doen wat Hy van ons vra. Dit is die praktiese aspek van elke dag se lewe – sonder filosofiese praatjies en mooi woordjies. Dit is die harde werklikheid, God se opdrag aan sy kinders.
In Rachelle Greeff se drama Rondomskrik sê die hoofkarakter dat ons “uitkyk-anties” vir mekaar moet wees. God rig dieselfde appèl tot ons: Wees op die uitkyk vir mekaar. Trek sirkels van liefde rondom dié wat alleen of hartseer, honger of verdwaas is sodat hulle veilig in daardie sirkels kan vertoef.
Ons kan op meer as een manier na mekaar omsien: gebed, sorg, bemoediging, hulp, liefde, selfs versoening en vergifnis – en onvoorwaardelike aanvaarding.
Die Griekse woord wat soms met “aanmoedig” vertaal word, beteken letterlik “om iemand na jou sy te roep”. Wanneer iemand ons aanmoedig, voel ons dat ons waardeer word.
Dikwels is ons doodeenvoudig nie op mekaar ingestel nie. Ons is selfbehep en kry dit nie reg om in iemand anders se skoene te staan nie. Dit is ons plig om op die uitkyk vir mekaar te wees. Soms verhinder ons omstandighede of afstand ons om by mekaar uit te kom. Dan kan ons aan die belofte in Genesis 31:49 vashou waar Laban vir Jakob sê: “Dit is Mispa, want die Here hou ’n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.”
Here, help my om op die uitkyk vir ander te wees. Amen.