Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk – Spreuke 16:3.
’n Wyse mens besef wanneer iets ’n vervaldatum bereik en dit tyd is om te groet, ’n sekere boek toe te maak en aan te stap. Dit kan ’n lewensfase, ’n verhouding, ’n droom of selfs ’n vriendskap wees. ’n Mens moet bid vir wysheid om sekere dinge met grasie te kan agterlaat sonder om die vormingsrol wat dit gespeel het, gering te skat. ’n Predikant vertel van sy gelukkige jare in ’n plattelandse gemeente. Hy en sy vrou was gelief. Hul werk was geseënd en hy het ervaar dat hulle as mense groei en hul roeping voluit kan uitleef.
Toe ontvang hy egter ’n beroep na ’n stadsgemeente waar mense kom en gaan en elkeen vir hom- of haarself leef. Ná ’n worstelstryd met God het hy besef dat sy tyd op die platteland uitgeloop het. Die Heilige Gees het hom oortuig dat hy stad toe moes gaan.
Hy vertel: “Ek het die insig gekry dat God my vir ’n nuwe uitdaging voorberei het. Ek moes die medemenslikheid en onderlinge liefde wat ek in my vorige gemeente ontvang het in my stadsgemeente kom vestig.”
Hy het dit gedoen. Aanvanklik was die gemeentelede onwillig om agter hul toe deure uit te kom, maar die predikant en sy vrou het volgehou om mense met liefde te versorg en te help inskakel. Stadig maar seker het die onpersoonlike stadsgemeente se lidmate na mekaar begin uitreik.
Wanneer God iemand roep, is Hy getrou.
Here, maak my bereid om dinge agter te laat sodat ek kan groei. Amen.