Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God – 1 Petrus 4:10 (1933/1953-vertaling).
Die Grieks vir “genadegawe” is charisma wat “geskenk” beteken. Ons gawes is ons geskenke uit God se hand. Ons verdien dit nie. Daarom mag ons dit nie selfsugtig opeis en wegsluit nie.
Ons moet ons genadegawes ontdek en ander daarmee bedien sodat hulle die kosbaarheid van ons gawe kan beleef en daardeur verryk kan word.
In Efesiërs 4:3, 6-7 en 11 (Die Boodskap) skryf Paulus hieroor: “Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie ‘eenwees’ en ‘saamwees’ moet ons tot elke prys bewaar. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie.”
Paulus brei uit dat party gestuur word om die boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander die gawe gekry het om dit aan hul eie gemeente oor te dra. Sommige kan die heilsboodskap mooi verduidelik, ander kan mense bystaan en lei wanneer hulle hulp benodig. Party kan soos goeie onderwysers medegelowiges stap vir stap leer wat God se boodskap behels.
Geen genadegawe is belangriker as ’n ander nie. Ons mag onsself nie hoër as ander ag wanneer ons ’n prominente rol in die samelewing en gemeente vervul nie. Die voorbidder en trooster se rol is net so onontbeerlik soos die prediker en apostel s’n. Almal het mekaar nodig.
Here, dankie vir medegelowiges. Help ons om mekaar op te pas. Amen.