“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer” (Johannes 15:1).
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly” (Johannes 15:9).
Om in Christus te bly en só ʼn vrugbare lewe te geniet, behels ʼn werklikheid wat ons nie uit eie krag kan bewerk nie.
Dit beteken nie dat ons op ʼn dag Jesus se voorbeeld begin navolg nie. Om Jesus se goeie voorbeeld na te volg, vloei wel voort uit ons gemeenskap met Hom, maar bring nie noodwendig hierdie gemeenskap tot stand nie.
Nee, om soos lote aan ʼn wingerdstok intiem deel van Jesus se lewe te raak en daarin te bly, is net moontlik danksy die verborge en genadige arbeid van die drie-enige God in ons lewe.
Duidelik sinspeel Johannes hierop wanneer hy na God die Vader verwys as die boer wat ons uit liefde vir sy Seun deel gemaak het van Hom as die ware wingerdstok – die Een aan wie ons deur sy Gees genaelstring bly, om só ʼn vrugbare lewe te leef.
Die Gees, herinner Paulus ons later, beseël ons nie net as eiendom van God (Efesiërs 1:13) nie; die Gees waarborg ook dat ons verder sal ontvang wat God belowe het. Dit is dat ons al hoe meer in Christus se liefde gewortel en gegrondves sal wees (3:16-17).
Paulus het die bevryding en vreugde van hierdie genadewerk van God in sy lewe persoonlik ervaar. Daarom kan hy my en jou vandag weer hiertoe oproep: Dank die Vader met blydskap omdat Hy ons geskik gemaak het om deel te hê aan hierdie unieke erfenis (Kolossense 1:12).
Jy kan regtig vertrou dat hierdie onpeilbare maar wonderlike geheim soos die verborge sap van die wingerdstok in jou lewe as brose loot werksaam is.
Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ek besing vandag U lof. Ek dank U – U wat my op so ʼn wonderlike en verborge manier deel aan die Goddelike lewe gee. Amen.
Carel Anthonissen