Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders – Matteus 5:9 (Bybel vir almal).
Vrede begin tuis. In ’n huis waar liefde en vrede hand aan hand woon. Om vrede te maak is ons elkeen se opdrag – met ’n belofte daarby: God sal sê hulle is sy kinders. Ons moet die vrede tussen ons staanmaak – soos die Bybelse lamp bo-op die staander – sodat dit kan lig gee.
Vredemakers hoef nie groot dinge te doen nie. Hulle gaan hul daaglikse gang tussen babakamer en kombuis, werkplek en huis, kerk en skool en winkels.
In sy bekende werk The peacemakers toonset die komponis Karl Jenkins op aangrypende wyse die inspirerende woorde van vredemakers wie se boodskap van vrede mense oor die aarde heen besiel.
Die koor begin met Jesus se woorde uit die Bergpredikasie: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word! Laat dit weerklink in alle tale: Vrede, vrede, vrede!”
Almal smag na vrede. Dit lyk egter na ’n immer ontwykende droom, want oral in die wêreld word onmin, oorlog en geweld aangeblaas. In ons mooi land is konflik en onverdraagsaamheid ’n daaglikse metgesel. Ek en die bure se tuinman praat oor ditjies en datjies wanneer ons mekaar soms op die sypaadjie raakloop. Onlangs – ná ’n week vol negatiewe nuusberigte – sê hy: “Vrede begin hier waar ons twee met mekaar gesels. Ons kan almal vredemakers wees.”
Die bekende gebed van Sint Franciskus van Assisi moet ons elkeen se versugting word:
Here, maak my ’n instrument van u vrede. Waar daar haat is, laat my liefde bring; waar daar oortredings is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof. Amen.