Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming (Lukas 1:54).
In die Sweedse rolprent “As it is in heaven” is daar ‘n aangrypende toneel wanneer die plaaslike pastoor se vrou hom konfronteer oor sy onverdraagsaamheid — ook sy ongevoelige aandrang dat mense hulle sondes moet bely alvorens God hulle sal vergewe.
In die hitte van die oomblik herinner sy hom: “God does not need to forgive, because God never condems.”
Wow! Wat ‘n kragtige verweer en teenwoord.
Weliswaar mag ons aanvoer dat dit haar eie subjektiewe interpretasie van God se genadewerk is. Miskien selfs ‘n projeksie van haar eie diep behoefte aan vergifnis. Aan ‘n God wat ons nie voordurend met arendsoë dophou en op die vingers tik wanneer ons fouteer nie.
Dat haar opmerking ons wel na die hart van die evangelie neem, is egter gewis.
Want die God van Jesus is inderdaad ‘n God van blywende ontferming. ‘n God met ‘n hart wat weliswaar ook kan breek. Maar wat sy ontsteltenis en woede met mense nie kan volhou nie. Want Hy dink gedurig aan sy beloftes van ontferming (Luk 1:54). Sy goedheid en liefde bly net té sterk. Dit duur lewenslank (Ps 30:6).
Hieraan mag ons nooit twyfel nie.
O Here, dit is waarskynlik die beste nuus wat ons kan hoor: dat U magteloos is teen u eie liefde en ontferming. En daarom u toorn teen ons nooit kan volhou nie. Amen
Carel Anthonissen