Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra – Klaagliedere 3:24-25.
In die ou Psalm- en Gesangeboek klink die woorde van Psalm 42 so: “Soos ’n hert in dorre streke,/ skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke/ skreeu my siel na U, o God […] Hoop op God, in Hom weer rustig/ in sy lof sal ’k my verlustig.” Met die sing daarvan het God se kalmte en vrede en stilte elke keer in my binneste kom lê.
Ware hoop lig ons uit onsself en ons besef van ontoereikendheid. Dit rig ons gedagtes en hoop op iets groters, buite onsself: op God wat ons met die goue draad van hoop aan Homself vasmaak.
Braam Hanekom sê in sy boek ’n Lewe met perspektief: “God is steeds groter as die somtotaal van ons denke. Hy werk ook daar waar ons ophou dink en glo. Ware hoop begin juis dikwels daar waar alle ander bronne van hoop uitgeput is. In gebrokenheid voor God.”
Daarom kan gelowiges anders hoop as die wêreld en kan Paulus verklaar: “Jesus Christus, ons hoop.”
Dit is een ding om met jou mond te bely en ’n ander ding om met jou hele verstand en wese te glo dat Christus jou enigste hoop is. Mense wat self die krag van hoop in hul lewe ervaar, kan die hoop in ander help wakker maak.
Here, ek glo dat my lewe in u hande is. U is my hoop. Amen.