Daar is baie wat onderneem het om ’n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was – Lukas 1:1-2.
’n Vriend vertel dat hy as kind saans lê en wag het vir sy pa, ’n mediese dokter, om terug te kom van die hospitaal af. Hy sou met opgeskerpte ore na die voetstappe luister wat vinnig die gang af kom. Dan stadiger. Tot dit in sy kamerdeur tot stilstand kom.
“Slaap jy?” sou sy pa vra.
En altyd-altyd was sy antwoord: “Nee, Pa.”
Dan het sy pa ingekom en by hom op die bed kom sit-lê. Hy het sy skoene uitgeskop en sy boonste hempsknoop losgemaak. En aangegaan met sy storie net daar waar hy die vorige aand opgehou het. ’n Tuisgemaakte storie. Spesiaal uitgedink vir sy kind.
Terwyl ’n peuter in die warm beskutting van haar ma se arms na ’n storie sit en luister, word dit meer as ’n blote verhaal. Die kind los daarin op. Die ma se hartklop word ’n sagte drommetjie teen die kinderoor.
God se storie is die lewe self. Dit is woorde van waarheid – ’n storie van omgee en goedheid, liefde en sorg. Dit troos, bemoedig en gee hoop. Dit vertel van verlossing en ewige lewe. En van Jesus Christus, wat gebore is, en toe gesterf en opgestaan het. Hý, die Koning, belowe dat sy geliefdes lank en gelukkig met Hom sal saamleef – vir altyd en altyd!
Here, dankie vir u Woord wat lewend geword en tussen ons kom woon het. Amen.