En ʼn stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom” (Matteus 17:5).
Die verhaal van Jesus se verheerliking wat ons tot in Lydenstyd neem, is een van die vreemdste maar ook troosvolste verhale in die Bybel.
Dit beskryf daardie oomblik op ʼn hoë berg toe Jesus se aangesig voor die oë van drie dissipels radikaal verander en soos die son begin straal het. En hoe hulle, naas die verskyning van Moses en Elia, skielik die stem van God hoor praat het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
Hierdie verhaal wat van lig oorloop, wil ons aandag op ʼn ou maar belangrike waarheid vestig. Dit is dat God in Jesus was. En dat wie in Jesus glo, wie vandag weer stil word en voor Hom buig, ja, na Hom begin luister, met sekerheid kan weet: Hulle verkeer in die teenwoordigheid van God self. Hulle lewe is, elke dag, omring met die lig van God se vertroostende en helende liefde.
Hulle staan, soos die woorde van ʼn bekende lied lui, daagliks op heilige grond.
Vir hedendaagse mense kan hierdie verhaal en sy boodskap na onsin klink. Maar die geskiedenis wys dat wie eenmaal hierdie lig van God se teenwoordigheid in Christus ontdek het beswaarlik weer van Hom los kan kom. Hulle bly vir tyd en ewigheid aan Hom verbind. Byna soos die Russiese skrywer Dostojefski wat geskryf het:
“Even if someone were to prove to me that the truth lay outside Christ, I should choose to remain with Christ rather than with the truth.”
Here, hoe vol twyfel is ons harte nie. Open vandag weer ons oë en ons harte sodat ons God se teenwoordigheid en liefde in Christus kan sien en ervaar. Amen.
Carel Anthonissen