Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar – Spreuke 4:5-6.
Wysheid is lewenslank ons beskutting. Binne daardie grense bly ons veilig.
Op ’n keer het een van my kleuters by ’n partytjie styf teen my bly staan terwyl die ander kinders op die springkasteel kerjakker. Toe ek hom aanpor om te gaan saamspeel, antwoord hy doodluiters: “’n Kind móét eers by sy ma staan. Dán kan hy gaan speel.”
Vanuit die bekende en veilige kan ons die onbekende aanpak.
Wanneer ’n jongmens die beskutte ruimte van sy bekende ouerhuis die eerste keer verlaat, is dit dikwels ’n ontnugterende ervaring. Dit bied egter juis die kans om geestelik en emosioneel te groei wanneer hy met nuwe omstandighede gekonfronteer word.
In die bloekombos naby ons huis verwonder ek my aan die bome se lang repe skurwe, droë bas wat net hier en daar nog lossies aan die gladde, blinknuwe stamme daaronder raak. Namate die boom groei, gooi hy sy bas – wat sy sagte binneste kern beskut – sonder meer af. In die proses vernuwe hy homself.
Soos die bloekoms moet ons ook gereeld ons dooie bas afgooi sodat ons nuwe jaarringe kan vorm en groei, al was dieselfde hulsels vroeër veilige skanse. Daardeur skep ons ruimte om as mens te ontwikkel. Deur onsself te begrens, verarm ons onsself.
God ken ons vermoëns. Waarom hou ons dan nog terug? Ons moet van die ou beknellende bas ontslae raak.
God se grense bied altyd die moontlikheid van nuwe groei.
Here, ek wil die ou uitgediende bas afgooi. Amen.