Moenie grensdrade verskuif wat jou voorouers opgerig het nie – Spreuke 22:28 (Nuwe Lewende Vertaling).
Oral rondom ons is daar grense. Tussen lande en state. Rondom lughawens en kernkragsentrales, sekuriteitsoorde en woonerwe. Versperrings sê vir die buitestander: Tot hier mag jy kom; nie verder nie. Dit hou ongewenste mense uit. Dit bied aan die begrensdes sekuriteit.
Binne die beskutting wat die Woord se vasgestelde grense bied, is daar vryheid en veiligheid. Wanneer die Woord sekere opdragte gee – soos om nie borg te staan nie, getrou aan ons huweliksmaat te wees, of nie losbandig te lewe nie – is dit vir ons eie beswil.
Dit verg egter dissipline om binne vasgestelde grense te bly. Daarom moet ons sorg dat morele norme soos eerlikheid, getrouheid en respek se grensdrade styf gespan bly.
Soms span ons binne die afgebakende grense ook nog ons eie grensdrade. Ons moet mekaar se grense respekteer. Ons moenie iemand daarvan beskuldig dat haar grense belaglik is net omdat dit van ons grense verskil nie. Dan begin sy ook haar eie grense bevraagteken. Sy wonder: Moet ek toegee en by die boekklub aansluit of saans ná werk saam met die ander gaan uiteet terwyl ek eerder wil lees of net by my eie huis wil wees?
Ander mense mag jou nie laat skuldig voel omdat jy gesonde dinge vir jouself verlang nie. Jy moet dus ook grense trek om jou teen sosiale druk en ander se negatiewe woorde te beskerm.
Ons moet gereeld die grense ondersoek wat ons vir onsself vasstel. Is hulle rigied? Selfgesentreerd? Liefdeloos? Of stem hulle ooreen met God se grense?
Here, dankie dat U grense met u liefde span. Amen.