Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron … Die verskroeide aarde sal ’n moeras word, dorsland waterryke wêreld. Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is, sal gras en riet en biesies groei – Jesaja 35:1-2a, 7.
In die Bybel word die woestyn en verval met geestelike dorheid en afvalligheid van God verbind. Wanneer Israel hom tot die Here bekeer, word die verskroeide aarde ’n moeras, die dorsland waterryke wêreld. Groen is simbolies van hoop en nuwe lewe. Die kleur dra die verwagting van groei en vrug en oorvloed. Dit vertel ook van God se genade. En dat Hy ons wil seën. Die kontras tussen die dorre onvrugbare woestynwêreld en die jubelende groen landskappe word weer en weer beklemtoon.
Deur die natuur herinner God ons aan sy almag teenoor ons nietigheid. Hy is die Skepper. Ons is die skepsels. Ons staan onder sy heerskappy. Indien ons sy opdragte nakom, belowe Hy dat Hy ons sal seën.
God se altydgroen beloftes sluit bo alles geestelike seën in, soos in Jesaja 35:8: “Daar sal ’n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe; dwase sal nie meer op die pad kom nie.”
Here, help my om in gehoorsaamheid aan U te leef en sodoende ’n ontvanger van u “groen genade” te wees. Amen.