Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir God. Daar is nie een wat goed doen nie. Van die hemel af kyk God die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra – Psalm 53:2-3.
Is dit werklik moontlik dat iemand kan dink God bestaan nie? Hy is tog oral rondom ons sigbaar, hoorbaar en in aksie. Hy is daar wanneer ’n baba gebore word. Ons beleef sy vrede by die sterfbed van ’n gelowige. Ons sien sy grootsheid in die natuur. God se almag en oppergesag is so vanselfsprekend. Hoe kan iemand dit ontken?
Hoe dwaas is dit tog om te lewe asof net jý in beheer is! In Lukas 12 word die gelykenis van die ryk dwaas vertel wat só geredeneer het. Hy het egter nie rekening gehou met die God wat oor lewe en dood kan besluit nie.
Ons kan maklik sê hy moes van beter geweet het. En tog – sonder dat ons dit sê – verhef ons ons bo God. Ons oordeel ateïste, twyfelaars en mense wat openlik sondig, maar ons misken God elke dag deur dít wat ons doen of nié doen nie.
Ons ignoreer Hom in ons besluite. Ons getuig nie van Hom nie. Ons verwag nie meer dat Hy wonders in ons lewe kan doen en gebede beantwoord nie. Ons vra nie meer na die wil van die Here nie. Ons is net so stiksienig soos die dwaas. Selfvoldaan. Selfgenoegsaam. God van ons eie lewe.
Here, U sien dwarsdeur my. Vergewe my dwaasheid. Amen.