En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem – Lukas 2:52.
In sy boek Praying circles around your children vertel Mark Batterson die gebed wat hy die meeste vir sy kinders bid, is een vir guns in die oë van God.
Wanneer hy sy kinders saans in die bed sit, dink hy aan die woorde van Lukas 2:52. Dan bid hy dit as ’n persoonlike smeekgebed vir elk van sy kinders: “Mag hierdie kind van my toeneem in guns by U en die mense.” Vir Batterson is dit die heel belangrikste gebed vir sy kinders.
Wanneer ons vir God se guns in ons kinders se lewe bid, val die ander dinge in plek. Dit is ’n altyd geldende gebed wat bly staan nadat die sportwedstryd wat so belangrik gelyk het iets van die verlede is, of die riller-eksamen verby is, of die leerlingraad gekies is.
Wanneer dinge nie in ons kinders se guns verloop nie, krisisse oor hul pad kom en hulle misluk of die spoor byster raak, moet ons volhard in ons gebede vir hulle.
Ook in goeie tye – wanneer dinge in hul lewe glad en reg verloop – mag ons nie vergeet dat die heel belangrikste gebed vir hulle steeds moet wees dat hulle gunsgenote van God sal wees nie.
Ons moet ons kinders met ons gebede omsirkel; nie gebede vir welstand en sukses nie, maar gebede wat God se guns afsmeek. Dít is wysheid.
Here, laat my kinders toeneem in guns by U. Amen.