Jy moet baie versigtig wees wat jy dink, meer versigtig as met ander dinge, want as jy reg dink, dan sal jy aanhou lewe – Spreuke 4:23 (Bybel vir almal).
In die oorspronklike Hebreeuse Bybelteks word daar met die woord “hart” meestal “die binnekant van die mens” bedoel. In sommige vertalings word “hart” as “wil” of “denke” vertaal. Die rede daarvoor is dat die hart in Bybelse tye as die setel van ’n mens se gedagtewêreld beskou is. Die hart is ook as die kern van jou diepste oortuigings gesien: daardie dinge waarmee jy versigtig moet omgaan.
Jy bewys jou kinders geen guns wanneer prestasies of voorspoed die heel belangrikste vir jou is nie. Êrens langs die pad gaan hulle nie aan al jou vereistes voldoen nie. Jy gaan teleurgesteld wees en hulle moontlik verwyt omdat jy voel hulle het jou in die steek gelaat ná alles wat jy opgeoffer het.
Die kinders, aan die ander kant, gaan voel hulle het jou gefaal en dat hulle nie goed genoeg vir jou is nie. Dat hulle selfs nóg meer moet doen om aanvaar te word. Dat hulle áltyd op die een of ander manier tekortskiet. Hierdie gevoel kan sneeubal tot by die punt waar kinders ervaar dat hulle nie onvoorwaardelik liefgehê word bloot om hulleself nie.
Wyse ouers se denke is op God ingestel. Hul hartsbegeerte is dat hul kind iemand sal wees wat die Here bo alles sal ken en dien en liefhê.
Here, help my om kinders groot te maak wie se hart op U ingestem is. Amen.