Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees – 1 Timoteus 6:7-8.
Ons almal is getuies van ons planeet se verval. Ons kla saam oor klimaatsverandering. Ons mor oor woude wat uitgekap word, die seelewe wat vernietig word en natuurlike hulpbronne wat besoedel word. Ons kyk met weersin hierna, maar is traag om iets daaraan te doen. Ons skuif die verantwoordelikhede oor na ander. Regerings, organisasies en munisipaliteite moet inspring.
Ons vergeet dat ons aandadig aan die uitwissing van ons planeet is. Ons raak deel van ’n verbruikerskultuur waar hebsug en eie behoeftes ál is wat saak maak. Ons koop kitskos en vra plastieksakke by die kassiere in plaas daarvan dat ons ons eie organiese inkopiesakke aanskaf. Ons koop wegneemetes in weggooihouers. Ons stap sienderoë verby plastiekstrooitjies, lekkergoedpapiertjies en koeldrankdoppies wat op die sypaadjies en in ons mooi parke lê.
Ons vergeet so maklik dat óns aarde ook ’n tuiste vir ons nageslag moet wees.
Tydens ’n besoek aan Paternoster, ’n vissersdorp aan die Weskus, gesels ek met een van die inwoners. “Wat is die wese van jul dorp?” vra ek.
“Op Paternoster besef ’n mens dat die lewe veel groter as jyself en jou eie klein lewetjie is. Hier het ons die voorreg om ’n kort rukkie deel van die tydlose see en die roerlose blou lug te wees. Ons weet: Die skepping behoort nie aan ons nie. Ons is slegs deurstappers.”
Here, help my om aandagtig te lewe en u skepping te koester en te bewaar. Amen.