Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk – Eksodus 3:4-6.
Die ongelowige wat in vrees vir God lewe, ervaar ’n benouende vrees vir straf en oordeel, en natuurlik die ewige dood. Vir die gelowige is dit iets totaal anders.
Die Hebreeuse woord yirah word gebruik wanneer van die “vrees van die Here” gepraat word. Dit kan as heilige verwondering vertaal word, of ook ’n eerbiedige ontsag vir die majesteit wat van God af uitstraal.
Die woord yirah is ook verwant aan ’n ander Hebreeuse woord wat beteken om iemand te ontmoet. Yirat Yehovah beteken volgens Joodse rabbi’s om in God se teenwoordigheid te kom en met ontsag en verwondering vervul te word.
Moses se seënbede vir Josef in Deuteronomium 33:16 eindig met die wens dat hy geseën sal word “met die toegeneentheid van Hom wat woon in die doringbos”.
Om God te vrees beteken dat ons – uit eerbied vir wie Hy is – aangespoor sal word om Hom te aanbid en te gehoorsaam. Die God “wat woon in die doringbos” is heilig en almagtig, maar Hy het ons innig lief.
Here, ek buig in ontsag voor U. Ek wil U in eerbied en heilige verwondering aanbid en in dankbare gehoorsaamheid volg. Amen.