Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! (Amos 5:14).
Onlangs lees ek weer ‘n preek van Kaj Munk, ‘n Deense pastor wat in 1943 deur die Nazi’s vermoor is vanweë sy moedige opstand teen Hitler se regime van vrees en terreur.
In dié preek, gelewer kort voor sy dood, herinner Munk ons op ‘n aangrypende wyse aan die roeping van ‘n kerk wat uit die Paasevangelie leef.
“Ons roeping,” so skryf hy, “behels ‘n bepaalde onverskrokkenheid, selfs ‘n heilige woede — een wat gebore is uit ‘n diepgaande kennis van God en van wat menslikheid beteken.”
Munk gaan dan verder: “Wat vandag nodig is, is om met woede op te staan waar die reg vertrap word, die leuen begin seëvier en dinge eenvoudig verkeerd is. Ja, ons moet opstaan teen die plundering van God se aarde. Teen die ongelykheid wat kinders laat honger ly, terwyl die rykes in oorvloed leef. Teen sinlose geweld en die malligheid van militêre operasies. Teen die leuen wat die strategie van vernietiging ‘vrede’ noem. En dít met selfvoldane sekerheid.”
“Ons soek vandag die onverskrokke moed wat ons geskiedenis weer in ooreenstemming met die norme van God se koninkryk sal bring. In hierdie verband onthou: Die tekens van die kerk was altyd nog dié van die leeu, die lam, die duif en die vis. Maar nooit dié van ‘n verkleurmannetjie nie.”
Is dit nodig om die belang van hierdie woorde vir ons tyd nóg verder uit te spel?
O Here, gee ons vandag die moed om soos u profete op te staan teen onreg, onverskilligheid en geweld. En bo álles u koninkryk te soek. Amen
Carel Anthonissen