Red my deur u mag, o God, laat aan my reg geskied deur u krag. Hoor my gebed, o God, luister na my woorde – Psalm 54:3-4.
Dawid skroom nie om tot God te pleit in oomblikke van verlatenheid nie. In tye van nood is God sy eerste gedagte.
Nadat die Siffiete aan Saul vertel het dat Dawid by hulle wegkruip, het hy na Goresa diep in die onherbergsame Sifwoestyn gevlug. In Psalm 54 stort Dawid sy hart voor God uit. Hy is bang en ontredderd en tot die dood toe moeg. God is sy enigste bron van hulp.
Dawid se gebed hierbo is die smeekroep van iemand in doodsgevaar. Hy ken die eensaamheid van ’n voortvlugtige in die woestyn, sonder vriende op wie jy kan vertrou.
God weet hoe om ons in elke woestynsituasie te antwoord. Hy ken Dawid se ontsetting en angs, sy smagting na ’n medemens se nabyheid. God antwoord Dawid se gebed deurdat Hy Jonatan, sy hartsvriend en vertroueling, na hom stuur.
In 1 Samuel 23:16 lees ons: “Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God.”
God is alwys. Hy weet dat ’n vriend soms die antwoord op ’n kind van Hom se diepste smagting is.
Here, dankie dat ek by U kan leer hoe wysheid lyk. Dwarsdeur my lewe stuur U mense om my te help wanneer my pad onherbergsaam en verlate is. Dankie daarvoor. Amen.