Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! – Handelinge 3:6 (1933/1953-vertaling).
Ek lees van Frances Ridley Havergal, ’n merkwaardige vrou wat in die 19de eeu gelewe het. Sy kon reeds op vierjarige ouderdom lees en skryf. Daarby was sy ses tale magtig, waaronder Grieks en Hebreeus, en het die eerste 19de-eeuse vroueskrywer geword wie se boeke die miljoenkerf oorskry het.
Frances Havergal het ook met haar ander talente gewoeker. Sommige Christelike liedere wat sy geskryf het, word steeds oor die hele wêreld gesing. Een van hierdie liedere, “Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer”, getuig van haar kinderlike geloof en haar oorgawe en toewyding aan die Here.
Die versreël “Neem my goud en silwer, Heer – niks noem ek my eie meer” het sy prakties toegepas toe sy haar hele juwelekis aan ’n sendinginstituut geskenk het om te verkoop ter stywing van hul fondse. Sy skryf aan ’n vriend: “Ek dink nie ek het al ooit goed met soveel vreugde gepak nie.”
Frances Havergal het alles gehad wat haar hart begeer het, en tog het sy dit prysgegee in haar navolging van Christus. Ons lewe dikwels onder die wanindruk dat ons die dinge moet najaag wat deur mense van groot waarde geskat word.
Petrus het verby die kreupele se behoefte aan geld gekyk en sy eintlike nood raakgesien: sy honger na verlossing. Hy het besef dat dít die goud en silwer is waarna hy smag.
Here, skenk my die ware goud en silwer, die kosbaarste wat U het, Jesus Christus. Amen.