Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand – Spreuke 9:10 (1933/1953-vertaling).
Vrees vir God is die bron van wysheid. Daarsonder is al die mens se kennis niks anders as dwaasheid nie. Wanneer ek so eiewys en aanmatigend is dat ek God nie vrees nie, word ek my eie god. Ek wil beheer oor my eie lewe neem en verootmoedig my nie meer voor die Here nie. Ek verdwaal in ’n selfgesentreerde godsdiens waar ék en mý behoeftes en ervarings die belangrikste is.
Wanneer ek God vrees, begin ek verstaan hoe ware wysheid in die praktyk lyk. Dit spoel oor na al my ander verhoudings: my verhouding met God, met myself, my gesin, my naaste, asook die breë gemeenskap.
Hoe kry ek dit reg om met die vrees van die Here te lewe?
In Matteus 22:37-40 gee Jesus die antwoord, oeroud en eenvoudig: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Wanneer ek met diep ontsag en liefde vir die Here lewe, word wysheid my deel en 1 Johannes 4:18 my rigsnoer: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”
Here, ek smag na u volmaakte liefde. Amen.