Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie – 1 Korintiërs 9:25-26.
Hoekom doen mense soveel moeite om doelwitte na te jaag? Wat dryf iemand om jaar ná jaar aan die Comrades-maraton deel te neem of ’n bergfietsren aan te pak? Of in te skryf vir ’n graad of diploma?
Almal wat aan wedstryde deelneem, hou by die dissipline wat nodig is om dit te kan bereik. Hulle maak opofferinge en ontbeer baie dinge. Olimpiese atlete oefen jare lank met die uitsluitlike doel om ’n kort oomblik op die podium te kan staan. Vir enigiemand met ’n groot doelwit voor oë lê die voldoening in die bereiking daarvan, daardie oomblik van glorie: “Ek het dit reggekry!”
Paulus beklemtoon dat atlete hulleself baie dinge ontsê om ’n kroon te kry wat vinnig verwelk, maar ons as navolgers van Christus doen dit om ’n onverganklike kroon te kry.
Mense sien geestelike dissipline dikwels as boetedoening of om jouself te straf omdat daar iets in jou verlede is waarvoor jy skaam is. Dissipline wat uit skaamte en vrees spruit, kan nóóit oorwinning verseker nie.
God se dissipline is op liefde en deernis geskoei. Hy besef dat liefde, en nie oordeel nie, die sonde uitwis. Ons noem dit genade.
Here, dankie vir u onverganklike genadekroon wat ek mag ontvang. Amen.