Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae – Psalm 23:6 (1933/1953-vertaling).
Genoeg is oorvloed. Dit is nodig om dit te weet en te verstaan. En heelhartig te glo.
Maar hoeveel is genoeg? Mag ek nog méér van God se goedheid verlang? Mag ek ’n bewys vra dat Hy omgee? Mag ek my hartsbegeerte voor sy voete kom lê? Die kind wat ek begeer? Die genesing van ’n ongeneeslike siekte?
Ja, ek mag. Solank ek weet dat ware seën die onwrikbare wete is: God is hiér. God is bý my. Hy seën my met sy teenwoordigheid. Seën is nie in omstandighede geleë nie. Ook nie in tasbare dinge nie. In swaarkrytye leef ek dikwels juis met ’n dieper bewustheid van sy goedheid en erbarming.
God se oorvloed lê veral in dít wat ons nie kan sien nie, maar wat Hy in ons hart kom doen. Ongesiens kom maak Hy ons van binne skoon. Hy skuur die skurwe randjies van die eie ek glad. Hy week ons onvergenoegdheid in sy milde liefde. Hy vee ons ondankbaarheid met sy sagte vrede skoon. Soos ons eie bekertjies leër word van onsself, kan Hy dit voller van Homself skink. Tot oorlopens toe.
Dawid beskryf die toppunt van oorvloed: Om in die huis van die Here te mag bly. Om in sy teenwoordigheid te wees – dag en nag tot in lengte van dae.
Here, laat ek tog nie ’n oorvloed sigbare dinge gelykstel aan u seën in my lewe nie. Dankie dat u genade vir my genoeg is, dat Ú vir my genoeg is. Amen.