“Maar baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees” – Matteus 19:30 (Nuwe Lewende Vertaling).
Ek sit en kyk hoe ’n paar dogtertjies speel.
“Ek sal voor stap. Julle moet maak soos ék sê!” beveel een.
Al sê ons as volwassenes dit nie in soveel woorde nie, verklap ons lyftaal dikwels ons meerderwaardigheid teenoor ander, veral wanneer ons “voor stap”. Ons stel ons meerderwaardigheid ten toon, hetsy by die werk, in die kerk of in die gemeenskap. Ander móét van ons kennis neem.
Daarteenoor kom Christus met sy oproep om nederigheid en diensbaarheid. Hoe oninspirerend lyk dit nie om iemand se voete te was nie! Diens is nie ons idee van ’n leier of voorloper nie. En tog is dit wat Christus van ons verwag.
Hy vra dit, want Hy weet wat alles in ons hart en gees gebeur wanneer ons in nederigheid by iemand buk om hom te bedien. Al buk ons net in ons gees, kom ons op die persoon se vlak. Ons kyk hom in die oë. En ons sien ons eie broosheid in hom raak.
Markus 9:35 gee dit in ’n neutedop: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”
Deur te leef asof jy onaantasbaar en onsterflik is, verseker jy jou eie ondergang. Volwassenes wat ’n vals selfbeeld by kinders bevorder deur hul sport- of skoolprestasies op te hemel, is aandadig aan so ’n kind se val.
Om voor te stap moet ons eers vóór kniel.
Here, ek buig laag voor U. Amen.