Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees – Filippense 1:9-10.
In Sue Monk Kidd se boek When the heart waits lees ek van twee vroue se reaksie op die uitvoering van Handel se Messias. Die een vrou was in vervoering oor die goddelike musiek. Vir die ander was die herhaling van die woorde baie steurend.
Die een konsertganger het die musiek gehoor, die ander niks behalwe die woorde nie. Dieselfde gebeur dikwels met die konsert van die lewe, skryf Monk Kidd. Sommige van ons hoor slegs die woorde. Ons vind ons sekuriteit in die “regte” antwoorde, die “korrekte” optrede, die voorgeskrewe maatstawwe. Ons lewe dikwels volgens ons eie bekende vasgestelde – dikwels rigiede – riglyne. Ons prewel die woorde van die lewensmusiek saam, onbewus van die vloeiende melodie wat daarmee saamloop.
In die Dordtse Leerreëls staan die volgende oor die Heilige Gees se werking: “Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is.”
Wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons vul, hoor ons die woorde én die melodie van die lewensmusiek.
Heilige Gees, vul my met u musiek sodat ek elke fyn nuanse van die woorde en melodie kan inneem. Amen.