Melktert

Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is – Spreuke 11:25.

Ek bak ’n dubbelgroot melktert vir my mense. Klein en groot word geroep om by die tafel te kom aansit terwyl ek en ’n oorywerige driejarige solank die tert, klein bordjies en vurkies op die eetkamer tafel regsit.

Terwyl ek gou in die kombuis is, klim die kleinding op die tafel en sny ’n skewe homp uit die middel van die melktert vir haarself.

In die alledaagse lewe eien iemand dikwels vir homself iets toe wat hy as sy regmatige deel beskou. Wanneer hy egter sy vryheid ten koste van ander uitoefen, verdwyn geregtigheid. Ander word deur daardie optrede veronreg.

Dié dogtertjie het nét aan een ding gedink: Hoe sy ’n lekker stuk melktert kon afsny. Die gedagte daaraan dat sy die tert daardeur vir ander onaantreklik sou maak, het waarskynlik nie eens by haar opgekom nie.

Martin Luther sê: “Die mens is in sy selfsug volledig ingebuig op homself.”

Gaandeweg behoort jy te besef dat jy nie die middelpunt van die wêreld is nie en dat dit meermale beter is om “Ek wil” eerder met “Wat wil jy graag doen?” of “Sal dit jou pas?” te vervang.

Joseph Fort Newton, Amerikaanse prediker, skryf: “Egoïsme is nie dat jy te veel van jouself dink nie, maar dat jy te min aan, en van, ander dink.”

’n Onselfsugtige mens neem die behoeftes en belange van ander in ag terwyl hy terselfdertyd na sy eie belange omsien – tot voordeel van almal met wie hy in aanraking kom.

Here, leer my om sensitief vir ander se behoeftes te wees. Amen.

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.