Boodskap vir Vandag

Search

Huisgesin

Jou vrou is in jou huis soos ’n vrugbare wingerdstok, jou seuns is rondom jou tafel soos olyfboompies! – Psalm 128:3.

In Psalm 128 beskryf die psalmis ’n gesin rondom ’n etenstafel. Die seuns is “jong olyfboompies” – hul takke wyd en lewenskragtig na alle kante uitgesprei.

Dit is die prentjie van ’n intieme gesinsirkel. Die tafel is méér as net ’n tafel waarby jy eet. Dit word die plek waar ’n gesin tot rus kom en by mekaar vertoef. Dit is die plek waar gesinslede mekaar ná ’n lang dag in die oë kyk en die dag se stories uitgeruil word.

Dit is die plek waar jy jou pa leer ken wanneer hy van sy werkdag vertel, of jou ma wat geduldig opskep en na elke kind se storie luister, selfs na die jongste se onsamehangende gebrabbel. Dit is die plek waar ’n tiener leer om ander ’n kans te gee om klaar te praat voordat hy sy storie vertel. Elkeen word gewaardeer en is gelief.

So ’n tafel is by uitstek ’n plek waar wysheid ruimte kry om te ontkiem en te groei. Gesinslede kyk en luister en praat. Hulle leer die fyn nuanses van wisselwerking met ander. Hulle leer onwetend lewensvaardighede: om mekaar te respekteer, nie te oordeel nie en te wag voordat jy jou mening lug.

Wanneer almal hande vat en hul koppe buig terwyl die pa die seën uitspreek, word God by hierdie intieme klein familiekring ingesluit. Hy word erken as die eregas by die maaltyd. Wanneer ons Hom eer en in ons teenwoordigheid verwelkom, word hierdie oomblikke heilig.

Here, help ons om ruimte te skep vir wysheid om te ontkiem. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed