“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag” – Deuteronomium 6:4-5.
Die opdrag om God lief te hê is ’n oproep tot heelhartige toewyding. Wie die gawes wat God aan ons skenk, liewer het as wat hy God liefhet, oortree die eerste gebod.
Sy gawes en besittings word sy god. Hy vergeet dat God die gewer is van alles wat hy besit. Hy verloor die Gewer uit die oog en aanbid die gawes. Dit vul sy hele hart en lewe.
Wanneer die Bybel teen rykdom waarsku, is dit teen hierdie verkeerde ingesteldheid teenoor ons besittings. Dit is nie ’n sonde om baie te besit nie, maar wel as dit die spil is waarom jou lewe draai. Die gelykenis van die ryk dwaas is ’n uiterste voorbeeld van hebsug en die mens se onbeteuelde begeerte na meer en meer.
Wanneer jy die sin van jou bestaan in jou aardse goed vind, is daar nie plek vir God nie. Jou sigbare besittings is jou enigste werklikheid en jy word arm in God.
Die Bybelse waarskuwing teen gierigheid en ’n gejaag na rykdom geld nie slegs vir ryk mense nie, maar elkeen wat toelaat dat aardse eiendom en die smagting daarna die middelpunt van sy lewe word. Mense met betreklik min aardse besittings is soms vaster aan hul goed as dié met baie.
Ryk of arm – dit maak nie saak nie. Slegs God se genade kan ons van hebsug en grypsug bevry.
Wanneer ons van ons aardsgebondenheid verlos is, kan ons asemhaal. Dan is ons diepste en enigste verlange na God.
Here, U is my hartsverlange. Amen.