Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here – Sefanja 3:12.
’n Vriendin vertel van ’n pas afgelope wêreldreis. Sy is ’n fyn waarnemer; nie net van landskappe en kulture nie, maar veral van verskille tussen mense en hul reaksies op situasies.
In Alaska loop sy ’n jong Amerikaanse toeris op ’n staptog raak. Hy was – soos hulle almal – in dik klere toegewikkel om hom teen die snerpende koue te beskerm. Maar toe word die spesifieke oggend sonnig en draaglik. Ná ’n ent se stap trek die jongman sy sneeubaadjie uit en druk dit met ’n selfvoldane glimlag in die naaste vullishouer. Die baadjie is onnodig. Uitgedien. En as dit weer koud sou word, koop hy net ’n ander een.
In Indonesië is hul gids ’n jong man met ’n flenterhemp, maar ’n breë glimlag. Aan die einde van die eerste dag gee my vriendin se man sy gehawende hemp aan hom. Half verskonend. Die jongeling se dankbaarheid ken geen perke nie. Die volgende oggend kom hy aangestap met die hemp aan sy lyf – gewas, gestryk, elke gaatjie gestop. Die glimlag is nóg breër.
Die verskil is ooglopend. Selfvoldaanheid teenoor erkentlikheid.
Selfgenoegsaamheid teenoor dankbaarheid.
Die eerste man dra ’n aura van “die wêreld behoort aan my” met hom saam. Die tweede man straal lewensvreugde en diensbaarheid uit. Die eerste man bewonder homself in sy eie spieël. Die tweede man kyk deur die venster na buite.
’n Dwaas leef net vir eie gerief en behoeftes. Die wyse leef na buite.
Hy glimlag – dikwels ten spyte van. Sy wysheid spoor ander aan.
Here, gee my tog ’n dankbare hart. Amen.