“Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15).
In die Johannesevangelie verras Jesus ons met die metafoor van vriendskap. Ons word nie meer slawe genoem nie, maar sy vriende (15:13-15).
In haar boek Models of God: Theology for an ecological, nuclear age fokus Sally McFague juis op drie metafore vir God, naamlik “mother”, “lover” en “friend”. Vir haar is vriendskap ʼn verhouding waarin daar ʼn keuse is. Dit het niks met ons rol, amp of funksie in die samelewing te doen nie. Die spreekwoord lui tog dat ons nie ons familie kan kies nie, maar wel ons vriende. Eintlik is vriendskap die verhouding in ons lewe wat aan ons die meeste vryheid gee en ons leer van lojaliteit en daar-wees vir mekaar.
Wanneer Jesus ons sy vriende noem, is daar ook ʼn keuse-element. Vriendskap word teenoor slaaf-wees gestel. ʼn Slaaf word gesê wat om te doen; ʼn vriend word genooi en beplan selfs saam. ʼn Slaaf se waarde lê in sy of haar funksies en doeltreffendheid; ʼn vriend se waarde lê in sy of haar menswees. ʼn Slaaf is ʼn besitting; ʼn vriend kan kies om lojaal te bly, en daarom is die keuse soveel waardevoller.
Vriendskap verryk. Daarom is dit betekenisvol dat Jesus Homself ons vriend noem.
Dankie, Jesus, my Here, dat U my vriend is, dat ek met U in ʼn hegte verhouding kan staan. Amen.
Lisel Joubert