Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is – 2 Timoteus 1:5.
Kinders van gelowige ouers sien hul geloof raak. Hulle leef in die dampkring van ouers en grootouers wat hul lewe aan God toevertrou. Die manier hoe gelowige ouers krisisse hanteer, bied ’n raamwerk vir hul eie lewe. Hulle ervaar: Geloof is ’n verbete vasklou aan God – nié aan die uitkoms nie.
Ek lees ’n eenvoudige verhaal van ’n seuntjie wat sy sussie kry waar sy in trane met haar porseleinpop sit wat sy per ongeluk laat val het. Die gesiggie is flenters en die dogtertjie in trane.
“Toemaar, ek sal bid dat Jesus haar gesiggie regmaak.”
“Nee, Hy sal nie,” sê die boetie terwyl hy wegstap.
Toe hy ’n rukkie later terugkom, sit die sussie nog net so met die stukkende pop op haar skoot.
“Ek het vir jou gesê Jesus sal nie luister nie.”
“Hy hét geluister,” sê die dogtertjie. “Hy het gesê Hy gaan dit nie heelmaak nie.”
Hierdie dogtertjie begryp die kern van gelowige gebed. Dit is ’n gesprek met jou almagtige Vader. Hy luister áltyd wanneer sy kinders praat.
Kinders moet beleef hoe ’n ouer reageer wanneer ’n gebed verhoor word, maar ook wanneer die antwoord “nee” is. Ons is rentmeesters, ook in ons geloof.
Here, help my om in kinderlike geloof op U te vertrou. Laat my geloof ’n kosbare erfenis wees. Amen.