Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ’n linneskouerkleed aan. Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring – 2 Samuel 6:14-15.
In John Westerhoff se boek The spiritual life skryf hy: “Religion is not to be believed, but danced.”
Die gedagte om ons geloof te “dans” skuif die klem van ons eindelose najaag van nog meer godsdienstige kennis na die vreugdevolle, spontane uitlewing van ons geloof. Wanneer ons, soos Dawid, ons geloof as’t ware “uitdans”, word dit ’n viering waarmee ons “ja” sê vir die lewe.
Dikwels onderbreek ons dié dans en huiwer op die rand van die dansbaan terwyl ons toekyk hoe ander dans. Of ons bestudeer hul bewegings uit ’n handleiding as riglyne hoe om ons geloof te leef.
Die doel van ons geestelike dans is dat ons op die ritme van God se musiek moet beweeg. Dawid se woorde in Psalm 16:11 (Nuwe Lewende Vertaling) eggo dieselfde gedagte: “U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd.”
Psalm 96:11-13 roep die natuur op om te deel in die feesvreugde: “Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis, die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here.”
God heers oor die hele skepping. Hy is almagtig en ons mag Hom nie inperk nie. Hy skenk aan ons ’n “boks”. Laat ons jubel en dans voor sy aangesig!
Here, ek dans voor u aangesig op die ritme van u musiek. Amen.