Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê (1 Johannes 4:11)
Oorlewering het dit dat die evangelis Johannes, ook bekend as die apostel van die liefde, baie oud geword het.
In sy kommentaar op die Galasiërbrief vertel die kerkvader Jerome dat Johannes reeds in sy negentigerjare was toe hy nog steeds in die stad Efese gepreek het.
Skynbaar was hy teen die tyd so oud en broos dat van die gemeentelede hom op ‘n draagbaar die kerk moes binnedra. Ook kon hy nie meer ‘n gewone preek hou nie. Terwyl hy op een elmboog geleun het, het hy net een sin kwyt geraak: My liewe kleine kinders, julle moet mekaar liefhe.” (“Little children, love one another.”)
Daarna het die mense hom weer die kerk uitgedra.
Volgens Jerome het die ritueel hom week na week afgespeel. En elke keer was dit dieselfde preek:“My liewe kleine kinders, julle moet mekaar liefhe.”
Moeg van die herhaling het die gemeente hom uiteindelik direk gevra:”Meester, waarom bly u oor en oor dieselfde sê?”
Waarop sy antwoord was:”Omdat die Here dit van ons verwag. En as ons dít kan doen, is dit genoeg.”
Johannes het inderdaad oor die jare en danksy sy Meester hierdie groot waarheid van die lewe goed leer ken.
Net soos van ons ook gevra word.
Here, U verwag van ons liefde teenoor almal. Laat ons U tog nie vandag hierin teleurstel nie. Amen
Carel Anthonissen