“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” – Matteus 18:4.
Om ’n kind se onontdekte talente en sluimerende eienskappe in die holderstebolder skoolopset raak te sien en te help ontgin bly ’n uitdaging. Die resultaat is nie altyd onmiddellik sigbaar nie. Maar die bevrediging wanneer die kind sy of haar volle potensiaal bereik, is dikwels groter as wanneer jou sportspan hul trofee omhoog hou.
Onlangs vertel ’n vrou wat reeds afgetree het van haar moeilike skooljare. Sy was een van die “onopsigtelike” kinders wat stil-stil haar gang gegaan het en moes toesien hoe ander leerders uitblink en geëer word vir hul prestasies. Sy het altyd minderwaardig gevoel – ook weens haar behoeftige gesin. Haar een groot begeerte was om net een keer op die verhoog te kon staan terwyl die skool vir haar hande klap.
In haar matriekjaar het die hoof haar kantoor toe ontbied. Sy was vreesbevange. Op die hoof se lessenaar het haar rapport gelê. In plaas van ’n skrobbering oor die minder goeie vakke, het hy haar geprys vir haar prestasie in natuurwetenskappe. Die woorde waarmee hy haar dié oggend uit sy kantoor gestuur het, was: “Jy kan!”
Hierdie woorde het haar lewe verander. Sy het gaan studeer en die een ná die ander kwalifikasie behaal. Vir die res van haar lewe was “Jy kan!” vir haar ’n inspirasie wanneer sy voor probleme te staan gekom het.
Dit verg wysheid en tyd om ’n kind se gees uit sy of haar skuilplek te help lei.
Here, rus elke opvoeder met u wysheid toe. Amen.