Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen – Efesiërs 5:16-17.
Ons het almal doenlysies. Elke dag s’n lyk anders. Ons teken ons afsprake en spertye vir werk aan. Ons skryf verjaarsdae en uitnodigings neer. Wat ons nie neerskryf nie, probeer ons onthou. Soms ontgaan iets ons en ons skarrel om weer op koers te kom en beheer oor ons lewe te kry. Ons moet weer gaan sit en ons lewe doelgerig orden.
My kinders koop elke jaar vir my ’n jaarkalender waarop ek maand vir maand by elke belangrike datum ’n inskrywing maak. Die kalender lê oop op my skryfblad om my daagliks te herinner aan hoe ek my dag moet inrig. Binne die groot hoofopskrifte is daar elke dag se kleiner onthoudingetjies wat ek nie eens neerskryf nie en wat dikwels onaangekondig my beplanning omvergooi.
Mark Batterson skryf in The circle maker dat ons nie slegs deur ons kalenders moet blaai nie. Nee, ons moet deur die datums bid. Ons moet bid vir insig vir die groot projek wat wag. Ons moet vra vir goedgesindheid en eenstemmigheid vir die vergadering wat in rooi omkring is. Ons moet bid vir God se teenwoordigheid in die dokter se spreekkamer.
Ons moet keer op keer by God hoor of ons kalender ooreenstem met sý kalender vir ons. Dalk is een van die onverwagse klein ekstratjies wat nie eens aangeteken is nie, juis in sy oë belangrik.
Vader, ek sit met my kalender voor U. Skenk my wysheid en onderskeidingsvermoë sodat ek my tyd reg benut. Amen.