“Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe” – Deuteronomium 30:19.
God staan altyd reg met sy guns en genade. Ons moet bereid wees om ons hande oop te maak en God se gawes aan te neem. Vrees hou ons egter terug. Ons vertrou God nie volkome nie. Ons weet dat ons saam met ons keuse ook ja sê vir alles wat oor ons pad mag kom. Goed en sleg. Blydskap en hartseer. Vreugde en pyn.
Om ons hande steeds toe te klem is egter ook ’n keuse. Daarmee sê ons “nee” vir die lewe. Hóé kan ek egter weet dat God die beste vir my wil hê? Dat ’n keuse vír Hom ’n keuse vir die lewe is?
Die skrywer Max Lucado bespiegel oor wat van Handel se grootse oratorium Messias sou geword het indien sy vrou ’n klein stukkie bladmusiek in die mineurtoonaard op die kombuistafel sou kry en op grond daarvan vir haar man sê dat hy ’n swak werk skryf.
’n Fenomenale oratorium van 200 bladsye kan onmoontlik deur ’n paar mineurtone beoordeel word. Wanneer ons vandag na hierdie grootse musiek luister, besef ons hoe fyn Handel elke onderdeeltjie bedink het. Mineur en majeur. Forte. Pianissimo. Ruspouses. Dartelende lopies. Somber stadige passasies. Jubelende slotakkoorde. Elk op sy perfekte plek.
God weet wat Hy doen. Hy wil die beste vir my hê.
Here, ek lê my lewe in u hande. Amen.