Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie – Jesaja 59:21.
Ons God is ruimhartig. Hy wil nie slegs enkelinge seën nie. Hy werk in gesinne en in families. Van geslag tot geslag. Hy bevestig sy verbond met sy kinders. Hy belowe dat Hy ons sal bemagtig met woorde wat Hy in ons mond sal lê. Dit is ’n belofte. Nie net vir nou nie, maar vir geslagte wat kom.
Ek moet my kant egter ook nakom. Hy verwag dat ek deur my woorde en dade my kinders aan sy verbond sal herinner.
Onlangs vra een van my kroos vir my of my ouers baie reëls gehad het toe ek klein was. Ek kon sonder huiwering sê dat al ons reëls op liefde vir God en ander mense neergekom het. Respek vir God het beteken dat ons sy sabbat moes heilig en Hom in alles eer en dien. Liefde vir ons medemens het beteken dat ons hul behoeftes moes leer raaksien en nie net aan onsself dink nie.
As student het ek op stil Sondae dikwels aan my ouers gedink en verlang na die veiligheid en beskutting wat hul gehoorsame uitleef van die verbondsbelofte onbewustelik vir my as kind gebied het.
God wil hê ons moet luister na die woorde wat die Heilige Gees in ons mond en hart lê. Ons moet dit aangee na die geslagte wat kom.
Here, maak my gehoorsaam aan u verbond. Amen.