Want God is tog nie ’n God van wanorde nie, maar van orde en vrede – 1 Korintiërs 14:33.
Ritme begin by God. Hy hou alles wat Hy geskape het in sy hand. Sterre, planete, son, maan, die aarde met alles daarop, is aan Hom onderworpe. Ons as mense is dit aan ons Skepper verskuldig om nie God se ritme te verbreek nie. Hy is nie ’n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.
Soms is die ritme van ’n sekere tyd in ons lewe sterk en polsend. Soms word dit onderbreek en ons kom hortend tot stilstand. Dalk word die ritme versteur deur ’n verhouding wat tot niet gaan, of die ideale werk wat nie na ons kant toe kom nie. Soms laat een enkele gebeurtenis ons lewensritme stol. Of dit ruk ons van koers af. ’n Miskraam. ’n Baba wat met ’n gebrek gebore word. Siekte. ’n Ernstige motorongeluk. ’n Geliefde wat sterf. ’n Huwelik wat verbrokkel.
Dit is dan – wanneer alle ander ritmes onhoorbaar is of uit pas begin raak – dat ons meer as ooit met ons hart moet luister. Ons moet ons stilwordritme terugvind. Ons moet die Skepper van alle dinge opnuut opsoek en weer leer om op die maat van gebed te wieg. Ons moet by die God van ritme gaan sit en ons ritme op sy metronoom instel.
Prediker 3:2 vertel van hierdie reëlmaat: “Daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek …”
Ek moet myself aan God se ritme oorgee en Hom volledig vertrou.
Here, ek kyk op na U. Amen.