Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan – Eksodus 15:27.
Tydens die Israeliete se omswerwinge in die Sinaiwoestyn het God hulle by Mara, met sy bitter water, beproef. Hulle het die woestyn in al sy ongenaakbaarheid ervaar. Hulle was verslae – na liggaam en gees. God se bevel was egter dat hulle verder moes trek.
Wat ’n verligting vir hierdie mismoedige Israeliete toe hulle Elim met sy 12 fonteine en 70 palmbome bereik! Elim was ’n oase in die onherbergsame woestyn. ’n Plek van rus en koelte en genade. ’n Simbool van God se genadige sorg.
Daar is oral klein groen Elims op ons woestynreis. Rusplekke wat ons weer bewus maak van God se immerteenwoordigheid, van sy goedheid en genade tussen songebakte daaglikse werklikhede.
Tussen al die psalms wat die wroeging van die psalmskrywers se woestyntye verwoord, is Psalm 92 ’n koel oase. Die opskrif lui: ’n Lied vir die Sabbatdag. In vers 2-5 besing die psalmdigter God se almag en getrouheid: “Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou. […] U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het.”
Slegs wanneer ons opkyk, kan ons ’n oase in die woestyn raaksien. God is ons oase. Hy is ons palmboom in die bar woestyn waar ons elke dag die beskutting van sy liefde kan opsoek en oor sy groot dade in ons lewe juig.
Here, U is my palmboom, my bron van rus en krag. Ek loof U. Amen.