Moenie ’n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie – Spreuke 3:27-28.
In die bekroonde Amerikaanse skrywer Dara Horn se roman The world to come sê een van die karakters dat tyd eintlik net leë houers is wat deur dade van liefde en omgee en ware goedwees vir mekaar volgemaak word. Wanneer jy jou hand terugtrek en jou hulp weerhou, bly die houers leeg.
Tussen ons beweeg mense wat op die oog af gelukkig lyk. Hulle is goed versorg, glimlag, praat en gaan voort met hul dagtaak. Maar wanneer ons nader kom en regtig in hul oë kyk, sien ons kommer. Of pyn. Of diep hartseer.
Stevie Smith se treffende gedig “Not waving but drowning” sê iets hiervan. In die vinnige verby mekaar leef, verwar ons “drowning” met “waving”. Ons kyk bolangs. Ons dink iemand “waai” terwyl hy eintlik “verdrink”. Die ergste is dat ons terugwaai – en aanstap.
Thomas Fuller, 17de-eeuse Engelse skrywer en kerkman, skryf: “Twee dinge kry ons nooit weer terug nie: woorde wat uitgespreek is en kanse wat verspeel is.”
’n Paar jaar gelede het ’n haelstorm vrugteboere in die Ceresvallei se oeste vernietig. Sommige boere het feitlik al hul vrugte verloor. Een van die dorpenaars vertel dat hy nie geweet het wat om vir die boere te sê nie en bang was om een van hulle in die dorp raak te loop. Vandag weet hy dat ’n opregte handdruk genoeg sou wees.
Here, maak my sensitief vir ander se hartseer en vreugde. Amen.