Hy [Abraham] het gesê: “Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry” – Genesis 18:3-5.
In die Ou én Nuwe Testament word gasvryheid hoog aangeslaan. ’n Mens lees gereeld van iemand wat ’n vreemdeling binnenooi om saam te eet en selfs te oornag. Hul nomadiese leefwyse en die ongenaakbare wêreld het waarskynlik daartoe bygedra dat mense makliker hul kos en water, asook hul oornagskuilings met mekaar gedeel het.
Die Griekse woord vir gasvryheid is philoxenia. Dit is ’n samestelling van twee Griekse woorde, naamlik philo wat liefde beteken en xenia wat vreemdelinge beteken. Om gasvry te wees behels dat jy liefde teenoor vreemdelinge sal betoon. Jy bewys jou goedgesindheid prakties aan ’n onbekende.
Vandag moet die beweegrede agter die betoning van gasvryheid dieselfde wees. Dit vra steeds van ons om uit ons gemaksone te tree en besoekers welkom te laat voel. Dit beteken dat ons ons deure letterlik en figuurlik moet oopmaak en ander binnenooi. Daarom moet ons gasvryheid by ons kinders en jongmense inskerp.
Ons lewe egter in onveilige tye en kan beswaarlik ’n onbekende van die straat af innooi. Die belangrikste is dat ons van onsself en ons eie gerief sal vergeet en na ander sal uitreik.
Gasvryheid is ’n opdrag. Meer nog, dit is ’n hartsgesindheid.
Here, leer my om waarlik gasvry te wees. Amen.