Ook bid ek dat julle al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.
– Filippense 1:9
In hierdie lewe wat al besiger raak, snel ons al meer by mekaar verby, soos treine in die nag. Jy vir jouself, en ek vir myself.
Met hierdie gejaagde en eenrigting-lewensingesteldheid raak ons al meer uit voeling met ander mense se behoeftes. Ons raak ook uit voeling met die Here se belangrike opdrag dat ons sy omgeeliefde moet uitleef. Hierdie omgeeliefde kan slegs geaktiveer word as jy
sensitief is vir die Heilige Gees se werking in jou hart en dit gehoorsaam volg, ten spyte van jou besige program.
Dink jy jy is in voeling met jou vriende se behoeftes? Met jou familie, man, kind of werknemers se behoeftes? Is jy in voeling met die lyding en swaarkry in die wêreld daarbuite? Of is al jou aandag net op jou lewe en jou verantwoordelikhede en jou prioriteite gerig?
Die Here wil hê sy kinders moet groei in sensitiwiteit vir ander mense se omstandighede en innerlike worstelings, al is ons besig.
Gee weer aan saamkuier ’n belangrike plek in jou lewe. Een van die doeltreffendste maniere om weer in voeling met jouself en ander se emosies te kom, is om tyd opsy te sit en saam te kuier om ’n tafel vol kos, sonder ’n horlosie wat tik of ’n selfoon wat gedurig lui.
Gaan deur jou adresboek en kyk wie jy lanklaas oorgenooi het vir ete. Reik dan uit met ’n kuieruitnodiging by jou huis.
Bruisgebed vir verbintenisse: Here Jesus, U het gereeld gaan staan en tyd gemaak om met mense te praat, om saam met hulle te eet en met hulle te connect. Raak my hart aan so dat ek sal uitreik en mense sal nooi om by my te kom kuier.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
