Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” – Genesis 2:18.
God het man en vrou as gelykes geskep. Ons vul mekaar aan. Die een is nie bo die ander verhef nie. Om “hoof van die huis” te wees is nie vir die man ’n uitnodiging om baasspelerig te wees nie. Dit is eerder ’n diep verantwoordelikheid om hom aan sy lewensmaat toe te wy en haar belange voorop te stel.
Hy moet haar soos sy eie liggaam versorg. Vanselfsprekend sal hy dan ook weet wat haar kwellings, behoeftes en onsekerhede is. Hy mag nie bloot aanvaar hy weet die beste vir haar en sy gesin nie.
Dikwels wil ’n vrou bloot die dag se dinge met iemand deel. Sy wil nie noodwendig ’n oplossing vir probleme hê nie. Eerder simpatie en begrip. Die wete dat haar man regtig luister, laat haar gelief voel. Wanneer sy haar kwellings en probleme hardop uitspreek, kry sy ook dikwels ’n beter begrip van haarself en die situasie.
’n Man, aan die ander kant, hoor waarskynlik net die feite en nie sy vrou se behoefte aan begrip nie. Hy wil onmiddellik ’n probleem oplos om dit vir haar makliker te maak. Dit is deel van sy drang om te versorg.
Dit is egter meestal vir ’n man beter om in stilte na sy vrou te luister. Soms duik die oplossing self op terwyl sy praat. Ander kere is dit nodig om saam die beste plan vir die situasie te bedink.
Here, gee ons wysheid om mekaar se verskillende maniere van doen te verstaan. Amen.