As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig – Jakobus 4:3.
Rick Warren skryf in sy boek The purpose driven life dat aanbidding ’n lewenswyse is. ’n Manier van kyk en doen. Hoe meer ek op God fokus, hoe meer trek sy liefde en krag in die kern van my wese en persoonlikheid in.
Dít wat ons bid, weerspieël ons diepste binnekant. Daarom moet ons ons gebede eerlik ondersoek. Draai hulle slegs om onsself en ons eie begeertes?
Ons samelewing voed mense se ydel soeke na erkenning. In ’n gemeenskap waar ons tussen die massa verdwyn, smag ons na aandag. Ons hele wese roep uit: Sien my tog net raak! Ons neem selfies en plaas persoonlike brokkies op sosiale netwerke. Ons deel ons lewe met enigiemand wat wil luister. Dit is spesiaal om te ervaar: ons word gehoor en gesien.
Terug in die gewone alledaagsheid van die lewe begin ons oor die sin van ons bestaan wonder. Ons verloor koers. Integriteit is nie langer ons maatstaf nie, terwyl anonieme aandag en goedkeuring ons aanspoor.
Ons maak ons gebede deel van ons soeke na erkenning en bid sonder skroom vir dinge wat ons kan laat goed voel oor onsself en ons selfsug voed. Sulke gebede is nie in ooreenstemming met God se hart nie. Dit is gebede wat dwase bid.
Wanneer ek my gebede op God rig, sal Hy my gee wat my hart begeer. Want Hy sien en hoor my régtig.
Here, ek verootmoedig my voor U. Ek erken: ek is klein. U is heilig en soewerein. Laat my lewe en gebede oor u roem gaan, nie my eie begeertes nie. Amen.