Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! – Psalm 29:3.
God gee perspektief. Wanneer ek verstrengel raak in allerlei dinge wat my aandag van my roeping aflei, vra God my om met die trappe tot heel bo by die punt van die vuurtoring te klim.
Van daar af kan ek ver sien. Ek besef weer my onbeduidendheid teenoor sy almag, sy alwysheid teenoor my “on”-wysheid. Ek staan nederig by die gedagte dat God my desondanks in sy koninkryk wil gebruik. Ek kry weer nuwe perspektief op my roeping.
Die see, onmeetlik groot en ontsagwekkend, word in die Bybel simbool van God se almag en heerskappy. Dwarsdeur die Skrif hoor ons die oeroue gedruis van die groot waters.
“Daar is die see, groot en wyd …” weerklink Psalm 104 in my ore waar ek heel bo-op die vuurtoring staan en my oë oor die waters laat gly. Saam met die ruising van die see waai ou bekende Skrifwoorde soos ’n soutvars seebries oor my.
Ek kyk na die skuimsoom van strandbrandertjies wat uitwaaier en weer suutjies terugtrek. Tussen skulpe en dryfhout lê ’n breë, nat sandstrook. Aan en aan en aan … God se belofte aan Abraham dat sy nageslag “so talryk soos die sterre en so baie soos die sand van die see” sal wees, sluit my in.
Hy hou my, ’n kleinste-klein sandkorreltjie, in sy hand. Sy belofte en seën geld ook vir my.
Skepper-God, dankie dat ek deel van u nageslag mag wees. Skenk my u wysheid om u seën te kan uitleef. Amen.