Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie – Psalm 73:25.
Willie Jonker sê: “Die kwaliteit van die lewe van ’n Christen kan eintlik gemeet word aan sy bekommernis.”
Wanneer ons God nie vertrou nie, moet ons vir onsself probeer sorg. Dan word angs en kommer deel van ons lewe. Indien ons egter met eerlikheid kan sê dat ons buiten God niks op die aarde begeer nie, kom daar ’n ligtheid en onbesorgdheid oor ons. Al ons sorge, al ons gejaag en gewedywer, al ons begeertes, val nou soos ’n swaar las van ons skouers af.
Soos in Psalm 4:9 kan ons sê: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.”
Die Bybel bring mededeelsaamheid in direkte verband met ons verhouding tot God. 1 Johannes 3:17 stel dit só: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”
Eers wanneer ek van my aardse besittings los geraak het en my volledig aan God se sorg oorgee, kan ek my naaste met my aardse besittings begin dien.
Jakobus sê dat die egtheid van ons geloof aan ons mededeelsaamheid teenoor hongeriges, dorstiges, nakendes en vreemdelinge getoets word. Wanneer ’n mens God werklik ken en bó alles liefhet, gaan jou hart, jou beursie en jou huis oop vir ander.
Want ek weet: Alles wat ek het, behoort aan God.
Ek is nie bekommerd oor môre nie, want alles behoort aan U. U sal sorg. Amen.