Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? – Prediker 2:24-25.
Uys Krige skryf: “Die lag is iets heerliks. Iets heiligs. ’n Gawe van God.” En daarby: “Die lag is van die mens, die grond, die aarde. En hoe nader jy aan die aarde kom, hoe nader kom jy aan die hemel.”
Audrey Blignault vertel dat hulle as kinders soms wakker geword het van hul ma wat in die middel van die nag oor iets begin lag wat die vorige dag gebeur het. En dan raak hulle weer aan die slaap – met hul ma se warm lag in hul ore en harte.
Ons ken almal iemand met ’n aansteeklike lag. Daardie lag wat in die hoek van ’n vertrek begin en rimpel-rimpel-rimpel totdat almal later saamlag, al weet hulle nie waaroor nie.
God gun ons vreugde, want dit is goed vir ons. Humor laat ons dinge in ’n ander lig sien. Dit help ons wegkyk van die sorge van die lewe.
Elsabe Aldrich skryf in haar boek Vonkelkyk op die lewe dat humor soos ’n duur velroom is. “Jy vermoed dit doen nie alles wat dit belowe nie, maar jy voel beter.”
Die knap vrou van Spreuke 31 – wat allermins ’n gemaklike terugsitlewe gehad het – kon lag oor die dag wat kom, want sy het haar aan God se sorg oorgegee.
Here, help my om onbesorg te kan lag oor die dag wat kom. Amen.