Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het – Hebreërs 6:11-12.
In sy boek Care of the soul skryf Thomas Moore dat die Latynse woord cura op versorging, verpleging, toewyding en aandag dui. Dit is ’n deurlopende, lewenslange proses: “Care of the soul has to do with modest care, not miraculous cure.” Ons soek kitsoplossings vir ons diepste emosies en gewaarwordinge sodat ons weer kan aangaan met ander sigbare, spoedeisende dinge.
Om te bly hoop op God se beloftes loop hand aan hand met die versorging van jou siel. Dit is ’n lewenslange proses.
Tydens ’n erediens by die NG-gemeente Somerstrand in Port Elizabeth sê Chris van Wyk oor geloof en geduld: “Beloftes is daar om in besit geneem te word. Dit is God se goeie gawes aan ons. Maar daarvoor het ’n mens geloof in God self en in sy goedheid nodig. En jy het geduld nodig, want jy moet baie keer op die vervulling van God se beloftes wag.”
Hy vertel dat die Hebreeuse uitdrukking vir geduld in die Ou Testament ’erek ’appayim is. Dit beteken letterlik “lank van neus” of “om ’n lang asem te hê”.
Geduld is dus om ’n lang tyd moed te kan hou, anders as angs, kommer of woede wat jou kortasem maak. Ons moet ons siel met geduld en toewyding versorg. God bly getrou aan sy beloftes.
Here, ek wil volhard. Amen.