Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop. Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe – Spreuke 4:11, 13.
Die Amerikaanse digter en Pulitzerpryswenner Mary Oliver het haar lys met lewenswaarhede só bewoord: “Instructions of living life: Pay attention. Be astonished. Tell about it.”
Vir ons as Christene sou dit só klink: “Voorskrifte vir die ware lewe: Luister aandagtig na die stem van Wysheid. Wees in verwondering oor haar woorde. Maak dit jou eie. Vertel en lééf dit.”
Daar is ’n dissipline in die woorde. Luister. Verstaan. Eien toe. Doen.
Om met wysheid te leef vra dat ons elke dag aandagtig lewe. Daar is geen resep wat in tien stappe vir ons uitstippel hoe ons te werk moet gaan nie. Daar is nie kortpaaie en klinkklare antwoorde gereed nie. Elke situasie vra dat ons opnuut by God sal sit en luister wat Hý sê. Ons moet met Hom praat en nie ophou soek na sy antwoord nie. Dan moet ons dit toe-eien en uitgaan en doen wat Hy sê.
Jakob het met God geworstel en geweier om Hom te laat gaan totdat Hy hom seën. Net so moet ons God se seën afsmeek wanneer ons wysheid najaag. Nadat God Jakob geseën het, het hy die plek Pniël genoem, wat herinner aan die Hebreeuse woorde vir “aangesig” en “God”.
Wanneer ons aandagtig leef en opreg soek en smeek, sal ons ook by Pniël uitkom: die plek waar God Homself aan ons sal openbaar.
Here, help my om aandagtig te leef en U nooit te laat gaan nie. Amen.