“Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek en my nie kry nie. Julle het ’n afkeer van kennis gehad, julle het geweier om die Here te dien, julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag” – Spreuke 1:28-30.
Timothy Keller skryf in The way of wisdom dat die verkryging van wysheid ’n daaglikse oefening moet wees. Wysheid is nie teoretiese kennis nie. Dit is die lewe self. Daarom is dit nodig om aan die einde van elke dag oor die dag se doen en late na te dink en te vra: “Moes ek nie dalk hier anders opgetree of liewer niks gesê het of juis iets gesê het nie?”
Ons verkry nie eerstehandse wysheid deur te luister na TED-praatjies of retraites by te woon nie. Dit kan ons hoogstens bewus maak van waar ons tekortskiet en ’n begeerte in ons wakker maak om in wysheid te groei. Wysheid kom deur inoefening. Ons moet diep delf daarvoor.
Wanneer ek byvoorbeeld na ’n praatjie luister wat handel oor “Wag op die Here”, moet ek my afvra: “Wanneer laas het ek werklik op die Here gewag?” Of: “Wanneer het ek iemand anders in geloof op God se uitkoms sien wag?”
Die groot vraag is: “Hoe sal my lewe anders wees indien ek hierdie beginsel elke dag uitleef?”
Here, help my dat wysheid nie slegs ’n prysenswaardige konsep vir my bly nie. Ek wil elke dag met wysheid leef. Amen.